'n Bietjie Inspirasie
Die bekende en bekroonde skryfster, Dalene Matthee, het in die pragtige en alombekende Bosroman - Kringe in die Bos - die volgende geskryf:
"Toe die aarde klaar geskape was en die mens op die aarde kom woon het, het die sewe hoofengele van die Hemel vergader om oor `n baie ernstige saak te besluit. Hulle moes besluit waar hulle die krag van God kan wegsteek sodat die mens dit nie te gou sal kry en misbruik nie.
Die eerste engel het voorgestel dat hulle dit op die maan moet wegsteek. Ja, op die maan, het die ander saamgestem. Maar die sewende engel sê: Nee, die mens is slim. Hy gaan eendag weet om op die maan te kom; ons moet `n ander plek soek.
Op die bodem van die see, waar die see op sy diepste is, stel die tweede engel voor. Ja, sê die ander. Maar die sewende engel keer hulle weer: Die mens is slim, sê hy, op `n dag gaan hulle tot op die bodem van die see ook soek.
Laat ons dit dan aan die môrester soek. Toe vra die ander vir die sewende engel waar hy dink hulle dit sal wegsteek?
Op die laaste plek waar hulle dit sal soek, sê hy. Binne in hulleself!"
Hierdie frase van oorlede Dalene Matthee kan vir ons almal `n inspirasie en motivering wees as ons somtyds in die krag van God binne ons twyfel.
Onthou: Sukses is om 99 keer te val en 100 keer op te staan!